Wednesday, 22 October 2008

Straatnaam radio onderhoud

click on the link below.
http://www.monitoringsa.com/DIGIBROAD/PTA/1310086.mp3

DA uit veldtog vir name

Cobus Claassen (BEELD)


Die verenigde front wat op die been gebring is vir die behoud van die Jakarandastad se bedreigde straatname – Aksie Pretoria Straatname (APS) – het ’n gevoelige terugslag gekry.
Altesame 47 burgerlike organisasies het verlede maand aangekondig hulle gaan ’n gesament?like veldtog voer teen die Tshwane-metroraad se plan om die name van 27 strate in die stad die trekpas te gee.
Die raad het vroeër bekend gemaak hy soek nuwe name vir strate wat “aanstoot gee weens hul koloniale en apartheidsverbintenisse”.
APS sluit rolspelers van belangrike gemeenskaps-, kultuur-, landbou-, beroeps- en burgerregte-organisasies en politieke partye in.
Die groep het egter een van sy belangrikste vennote verloor toe die amptelike opposisie in die raad, die DA, sy steun aan APS onttrek het.
Die besluit volg ná die raad se openbaredeelname-vergaderings wat tot dusver deur grootskaalse chaos gekenmerk word.
Die DA maak geen geheim daarvan nie dat hy hom weens die VF+ se beweerde aandeel in die chaos onttrek het.
“Die DA kan nie deel wees van die groep terwyl sekere individue hierdie belangrike proses (openbare deelname) misbruik vir kortsigtige politieke gewin nie,” lui die brief waarin dié party sy “bedanking” verduidelik.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en sameroeper van APS, het namens AfriForum gesê hulle is teleurgesteld met die besluit, maar het begrip daarvoor dat dit in die aanloop tot die komende verkiesing moeilik gaan wees om politieke partye om dieselfde tafel te laat sit.
“AfriForum sal egter voortgaan om met alle partye saam te werk en goeie verhoudinge te behou.”
Janho Engelbrecht, DA-raadslid, het dank uitgespreek teenoor AfriForum en Solidariteit vir “hulle harde werk in die bevordering van die Afrikaner se saak”.
Volgens Engelbrecht kan die VF+ se “selfgerigte politieke opportunisme” die saak laat verongeluk – waarin die DA nie ’n aandeel wil hê nie.
Hy sê die VF+ is onnosel om argumente soos dat die ANC name van terroriste en moordenaars wil vereer, te voer.
“Dit is die een manier hoe jy nie iets gaan regkry nie. Trouens, jy gaan juis die teenoorgestelde bereik.
“Die ANC het ’n groot meerderheid in die raad en om die proses met emosionele, rasgedrewe konfrontasie te benader, is onwys.”
Die VF+ sê hy kan nie die skuld dra vir die chaotiese manier waarop die vergaderings plaasvind nie.
Cornelius Jansen van Rensburg, VF+-raadslid, meen die ANC moet pa staan vir die vergaderings “wat niks anders as ’n rookskerm is nie”.
“Dit is ’n sirkus. Wat het van onafhanklikheid geword?” het hy gesê met verwysing na die vergaderings wat deur ANC-lede in die raad gelei word.
Die VF+ sê die ANC is naïef as hy gedink het die proses gaan sonder emosie en teenkanting verloop.
· APS moes teen druktyd nog ’n besluit neem oor hoe die DA se onttreking sy voortbestaan gaan beïnvloed.

Brief gerig aan APS(Aksie Pretoria Straatname)

Geagte Vriende,

Neem asseblief kennis dat die Demokratiese Alliansie van Aksie Pretoria Straatname ontrek.

Ons wil ons dank uitspreek teenoor organisasies soos Afriforum en Solidariteit vir hul harde werk in die bevordering van die Afrikaner saak en wil hul verseker van ons voortgesette goeie verhoudinge en ondersteuning.

Verstaan asseblief dat die Demokratiese Alliansie nie deel van hierdie groep kan bly terwyl sekere individue hierdie belangrike proses misbruik vir kortsigtige politieke gewin nie. Dit is ons mening dat selfgerigte politieke opportunisme die saak kan laat verongeluk en daarom wil ons geen aandeel daarin he nie. Die Demokratiese Alliansie is 'n party wat glo in die oppergesag van die reg en in menswaardigheid, ons kan ons self nie langer assosieer met mense wat nie hierdie waardes deel nie.

Wees verseker dat die Demokratiese Alliansie sal voortgaan met ons pogings om die proses te stop en dat ons sal aanhou veg vir die regte van ons kiessers om sodoende 'n beter Suid-Afrika vir almal te verseker.

Rakende die gebeure tot dusver: Dit is my mening dat enige persoon met 'n gesonde verstand behoort te weet dat dit absolute onnoselheid is om die straatnaamkwessie te probeer beveg op die argument van terroriste, moordenaars en ander, uiters rassistiese opmerkings. Dit is die een gewaarborgte manier hoe 'n mens nie iets gaan regkry nie, en juis die teenoorgestelde sal bereik. Die ANC het 'n groot meerderheid in die Raad, om die proses deur emosionele rasgedrewe konfrontasiepolitie k te benader, eerder as onderhandelinge, is onwys. Dit sal daartoe lui dat ons nie ons doel sal bereik nie.

Groete en sterkte

Janho Engelbrecht

Tshwane metro Raadslid (DA)