Wednesday, 22 October 2008

DA uit veldtog vir name

Cobus Claassen (BEELD)


Die verenigde front wat op die been gebring is vir die behoud van die Jakarandastad se bedreigde straatname – Aksie Pretoria Straatname (APS) – het ’n gevoelige terugslag gekry.
Altesame 47 burgerlike organisasies het verlede maand aangekondig hulle gaan ’n gesament?like veldtog voer teen die Tshwane-metroraad se plan om die name van 27 strate in die stad die trekpas te gee.
Die raad het vroeër bekend gemaak hy soek nuwe name vir strate wat “aanstoot gee weens hul koloniale en apartheidsverbintenisse”.
APS sluit rolspelers van belangrike gemeenskaps-, kultuur-, landbou-, beroeps- en burgerregte-organisasies en politieke partye in.
Die groep het egter een van sy belangrikste vennote verloor toe die amptelike opposisie in die raad, die DA, sy steun aan APS onttrek het.
Die besluit volg ná die raad se openbaredeelname-vergaderings wat tot dusver deur grootskaalse chaos gekenmerk word.
Die DA maak geen geheim daarvan nie dat hy hom weens die VF+ se beweerde aandeel in die chaos onttrek het.
“Die DA kan nie deel wees van die groep terwyl sekere individue hierdie belangrike proses (openbare deelname) misbruik vir kortsigtige politieke gewin nie,” lui die brief waarin dié party sy “bedanking” verduidelik.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en sameroeper van APS, het namens AfriForum gesê hulle is teleurgesteld met die besluit, maar het begrip daarvoor dat dit in die aanloop tot die komende verkiesing moeilik gaan wees om politieke partye om dieselfde tafel te laat sit.
“AfriForum sal egter voortgaan om met alle partye saam te werk en goeie verhoudinge te behou.”
Janho Engelbrecht, DA-raadslid, het dank uitgespreek teenoor AfriForum en Solidariteit vir “hulle harde werk in die bevordering van die Afrikaner se saak”.
Volgens Engelbrecht kan die VF+ se “selfgerigte politieke opportunisme” die saak laat verongeluk – waarin die DA nie ’n aandeel wil hê nie.
Hy sê die VF+ is onnosel om argumente soos dat die ANC name van terroriste en moordenaars wil vereer, te voer.
“Dit is die een manier hoe jy nie iets gaan regkry nie. Trouens, jy gaan juis die teenoorgestelde bereik.
“Die ANC het ’n groot meerderheid in die raad en om die proses met emosionele, rasgedrewe konfrontasie te benader, is onwys.”
Die VF+ sê hy kan nie die skuld dra vir die chaotiese manier waarop die vergaderings plaasvind nie.
Cornelius Jansen van Rensburg, VF+-raadslid, meen die ANC moet pa staan vir die vergaderings “wat niks anders as ’n rookskerm is nie”.
“Dit is ’n sirkus. Wat het van onafhanklikheid geword?” het hy gesê met verwysing na die vergaderings wat deur ANC-lede in die raad gelei word.
Die VF+ sê die ANC is naïef as hy gedink het die proses gaan sonder emosie en teenkanting verloop.
· APS moes teen druktyd nog ’n besluit neem oor hoe die DA se onttreking sy voortbestaan gaan beïnvloed.

1 comment:

Janho Engelbrecht said...

Snaaks dat Beeld nie die deel wat aandui dat die DA sal voortgaan in hul pogings om die proses te stop, in die berig ingesluit het nie.